, ,

Dis Beter So

Dis beter, my mens, dat jy min bly besit,
sodat jou hande bly skoon en jou hart klop nog wit;
as wat jou sakke knop staan van die wêreld se kwaad,
en jou siel lê en dors langs die rykdom se pad.

Dis beter ’n korsie met vrede daarby,
as ’n tafel wat kreun, maar die Jirre staan opsy;
want die geld van die skelm maak ’n harde geluid,
maar die stem van sy gewete raak nimmermeer stil uit.

Die ryk man se silwer kan glinster soos son,
maar die nag kom hom haal waar sy sonde begon;
en die arm man wat reg voor sy Maker kom staan,
het ’n skat wat geen mot en geen roes kan verslaan.

Moenie kyk na sy geldsak wat so vet aan hom hang,
want die kwaad het ’n bek en sy tande is lank;
wat vandag soos ’n seën in jou hande mag blink,
kan môre soos gal in jou binneste sink.

So gee my maar min, Jirre—net genoeg vir die dag,
en ’n hart wat nog stil op U goedheid kan wag;
want dis beter om arm op die regte pad te gaan,
as met sakke vol geld voor U oordeel te staan.

Ja, beter ’n kaalvoet wat reguit bly loop,
as ’n blink velskoen, maar jou siel is verkoop;
beter min in my hand met my Jirre naby—
as die wêreld se rykdom, en die Hemel verby.

Leave a Reply

I’m Gazza

Welcome to My Lasting Minutes.
Here I share my poetry, stories, songs, and reflections on life. My hope is to turn a minute of thought into something that outlasts me — and leaves behind something worth remembering.

Let’s connect

Donate

PayPal Me

Discover more from My Lasting Minutes

Subscribe now to keep reading and get access to the full archive.

Continue reading